Categories:
Tags:

Musiek is ‘n taal wat elke hart verstaan en by Hoërskool Driehoek wil ons die leerders die kans gun om hulle passie vir musiek uit te leef en ’n geleentheid skep om saam met mekaar musiek te kan geniet.

Hoërskool Driehoek se koor bestaan uit sowat 60 leerders. Die koorleidster is me. Dalien Ahlers en die koor word begelei deur me. Aryna Mynhardt. Die koor neem jaarliks deel aan verskeie plaaslike Kunstefeeste en ons het al verskeie kere by fondsinsamelingsgeleenthede vir die historiese Klipkerk in Vereeniging opgetree. In 2019 het
die skool se koor deelgeneem aan die Tshwane Youth Arts Festival en ook aan die TV-program, “Sing in Harmonie”. Nie net het die koor al die voorreg gehad om by interessante plekke op te tree, soos die Staatsteater in Pretoria en die ZK Matthews saal by UNISA nie, maar hul het ook al die geleentheid gekry om saam met merkwaardige persone te sing, soos die bekende sanger, Joshua na die Reën.

In 2018 het die koor aan Interkultur se Internasionale Koorolimpiade in Tshwane deelgeneem. Dit het die leerders se horisonne verbreed en hulle het die geleentheid gekry om kameraadskap te ervaar met koorlede van regoor die wêreld wat ook deel in hulle liefde vir musiek . Na maande se harde werk en ure se oefening het Hoërskool Driehoek se koor met hul optrede in die kategorie “Music of Spirit and Faith” ‘n Silwer Vlak 3-toekenning verwerf.

Hoërskool Driehoek se Koorfeeste is feestelike geleenthede waar die skoolsaal gevul word met harmonie en musiek. Verskeie kore kom spog met hul wonderlike talente en koorlede kry die geleentheid om deel te wees van prettige massakooroptredes, waar die grootste uitdaging is om al die koorlede op die verhoog in te pas!

‘n Koorkamp is ook ‘n jaarlikse instelling by Hoërskool Driehoek waar ons kans kry om mekaar beter te leer ken en goeie spangees te kweek. Dit is nou alles so tussendeur harde maar kosbare ure van oefen aan nuwe liedjies. In 2020 was die koor se planne in plek om die Music in the Mountains-fees by die Drakensbergse Seunskoor by te woon. Dit bly egter definitief nog op ons beplanningslys vir die toekoms.

Luister hier:

Foto-album: