Sifiso slaag Matriek – Jaar ná brugtragedie

Dit was ‘n groot oomblik toe Sifiso vanoggend sy matriekuitslae kry. ‘n Jaar gelede moes hy hoor hy het matriek gedruip. Dít ná die trauma toe ‘n loopbrug by sy skool sou ineenstort, en hy sy rug beseer.

Huisgenoot joernalis, Jana Van Der Merwe se inskrywing op Facebook:

Ek en Sifiso is dit eens die Here het ons op mekaar se pad geplaas. Dit was ironies dat dit nie die brugongeluk was, wat my die diepste geraak het, toe ons einde 2019 ontmoet het nie. Dit was oordat dit vir hom erger was om elke liewe dag van sy lewe honger skool toe moes gaan en hy vir niemand daarvan kon vertel nie. Maar een Saterdag, vertel hy my, ná ‘n rugbywedstryd, toe keer sy meneer hom voor en stop vir hom ‘n paar rand in die hand. Ek het op daardie oomblik Sifiso raakgesien. Ons is saam deur die rowwe covid-jaar en saam het ons toe hy weer in Johannesburg kon kom, elke middag vraestelle deurgewerk. Ek het my hand uitgesteek en hy het dit gevat. Ek het die slaggatpad na sy huis in die township Evaton baie gery sonder dat hy snaaks dink dat ek dit élke keer met ‘n GPS moes doen.
Ek glo ek het meer by hom geleer as hy by my.
Sifiso het al drie die vakke wat hy 2019 gepluk het, geslaag. Ek het vir hom daarna gesê: “Besef jy dan jy het tegnies nooit gedruip nie?”
Dít sou nie moontlik gewees het sonder Odette Venter van Mastermaths Vanderbijlpark nie. Odette het elke tree saam met Sifiso bloedgesweet. Odette, jou onbaatsugtigheid en passie vir die kinders wat jy help is verstommend. Sifiso het gevra dat ons eers daar stop om sy matrieksertifikaat te gaan wys. Dankie aan Theunis Duvenage van SS Profiling wat nie gehuiwer het om Sifiso se lesse te borg nie. Daar was nog baie ander mense agter die skerms wat saam gehoop en gebid en gehelp het. Meer as wat ek ooit sou kon dink, want laat vanmiddag bel mnr. Ricardo Erasmus, Driehoek se skoolhoof my en vra: “Het jy al gehoor?!”
Ons wag nou om te hoor wat die jongste uitslag is, wat Sifiso se rugbesering betref. Hy het drie werwels in die ongeluk gekraak en daar was nie een dag, wat hy nié pyn gehad het nie. Hy is deur dit ook.
Ons behoort binnekort te weet hoe die pad vorentoe lyk. Ek hoop hy sal steeds sy beurs by die Internasionale rugby Instituut in Pretoria kan navolg, al is dit om in afrigting in te gaan. Sifiso leef vir sport. Vir dié droom om egter te gebeur sal ons nog fondse vir sy kos en verblyf vir die jaar moet in samel. Maar hy het al so ver gekom. Ek kan nie trotser wees nie.